Dr. Lariza Hoffman

heindeBruin_04_small_03 logo alleen

Goed genoeg was nog nooit goed nie

Aldus die bekende wysgeer, Langenhoven. Tog so baie waar! Veral soos blyk uit die geradbraakte taal wat mense so skaamteloos en respekloos in hul webwerwe en ander internet-kommunikasie kwytraak.

Ek hou nogal daarvan om te dink dat my taalbeheersing van Afrikaans en Engels bogemiddeld is. Nou nie dat dit veel sê nie, want die gemiddeld vir beide tale is deesdae pateties laag.

Gelukkig het ek betyds besef dat my Afrikaans en Engels hoogstens goed genoeg is en daarom nie goed is nie; ook dat ek my eie raad behoort te volg: gebruik jou verstand, gebruik ‘n spesialis.

So gebruik ek my verstand en kry ’n goeie spesialis-taalversorger. Nee! ek jok. Nie net ’n goeie ene nie, maar na my oorwoë mening, die heel beste: Lariza Hoffman. Danksy haar hoef ek my nie te skaam vir die taalgebruik in my webwerf nie. (As daar tog êrens ’n foutjie ingesluip het, aanvaar ek verantwoordelikheid daarvoor. Dit sal slegs in gevalle wees waar sy nog nie die betrokke stuk onder die loep geneem het nie, of waar ek gaan staan en torring het aan iets wat sy reeds nagesien het.)

Lariza verlaat skool na graad 10. Die volgende jaar, skaars 16 jaar oud, slaag sy matriek aan Sukses met nie minder nie as 8 vakke, in die eerste klas. Daarna behaal sy die grade BA, Honneurs BA asook MA aan UNISA, al drie Cum Laude. Dié universiteit ken die fakulteitsmedalje aan haar toe vir die beste prestasie in die graad BA. Sy behaal haar doktorsgraad, D.Litt. et Phil. in 2006, ook aan UNISA. Blaai gerus in haar Proefskrif rond om weer bewus te raak van die ongelooflike sêkrag van Afrikaans.

Taal en taalwetenskap is in haar are: Afrikaans (hoofvak), Engels, Duits, Linguistiek. Sy het ook gesogte diplomas in Vryskutjoernalistiek, Kinder-verhale, Kortverhale en Radioverhale verwerf.

Sy spesialiseer in Afrikaanse taalversorging en proefleeswerk; ook haar Engels is eweneens so goed. Dit is haar trots om ’n verhandeling, tesis, CV, kortverhaal, boek, rubriek, advertensie, ander bemarkingsmateriaal, brosjure, webwerf of teks professioneel af te rond.

Koste? Kontak haar by 079 193 5256 of larizahoffman@gmail.com vir ’n kwotasie. Teen slegs ’n handjie vol Rande per bladsy is die arbeider baie meer as net haar loon werd; om’t waarheid te sê, haar uitsonderlike kennis en grondige ervaring is myns insiens eintlik nie in geld te meet nie.

Die eerste indruk, is die blywende indruk; dikwels die verskil tussen sukses en mislukking. Dit geld veral vir enigiets wat op skrif gestel is en dit is hier waar Lariza vir u van onskatbare waarde sal wees…

Terloops, sommige mense het ook voor in die ry gestaan toe talente uitgedeel is. Lariza is nie net ’n uiters bekwame taalversorger nie, sy hanteer ook ’n skilderkwas soos min ander.

Kontak my

Altyd so na aan u as die naaste foon of rekenaar

heindeBruin_04_print_03 - KopstukB.Proc.  N.Dip.(Bemarking)
Finansiële Diensverskaffer — Lisensie 8840
Gesondheidsorgmakelaar — Akkreditasie BR 285
Geakkrediteerde PPS Makelaar — M/Kode 124314907

© 2011 — 2019  Alle regte voorbehou deur Heinré de Bruin